Marlise
Hierdie is net ‘n kort briefie om dankie te sê vir die pad wat jy met ons gestap het hierdie jaar! Ons het vroeg in die jaar jou gekontak en laat weet dat ons graag op ons erf wil bou… nou omtrent 8 maande later staan ons binne ons huis!
Ongelooflik…
Hierdie dankie is vir beidie die fantastiese bou gehalte van die huis asook die fyn beplanning, projek bestuur en spesiale advies wat jy vir ons deurgans gegee het.
Dis ongelooflik om te dink jy het die huis gebou sonder dat ons een keer eers in Stilbaai was – ons het al die gesprekke en besluite gefinaliseer met fotos, emails en telefoon oproepe. Jy het bykans daagliks vir ons fotos gestuur met die dag se vordering – ons het elke dag so uitgesien na die fotos!
Ons glo ons huis is besonders en uniek met die spesiale afwerkings wat jy so noukeurig vir ons bepaplan het… jou voorstelle en advies oor die wasbakke, krane, stoof, braai, vloere, rakke, kleure vir die verf, ens. word baie waardeer. Jy het in al hierdie besluite altyd ons persoonlike smaak, voorkeure asook begroting in ag geneem en altyd vir ons opsies en keuses gegee. Ons was gemaklik om jou raad te volg, en nou – soos ons hier staan en na alles kyk – is ons baie dankbaar dat ons na jou geluister het.
Jy het ons gedurig op datum gehou van hoe ons projek vorder teenoor jou aanvanklike kwotasie en ons het geen onverwagte addisionele kostes gehad nie. Waar jy nuwe of ander opsies gesien het soos die projek aangegaan het, het jy altyd vir ons keuses gegee en impak op ons begroting verduidelik.
Baie dankie dat jy hierdie projek om ons huis te bou nie net maklik gemaak het nie, maar dit was ‘n plesier om die vordering te sien en presies op die tyd wat jy belowe het net in te stap in ‘n perfek voltooide huis. Ons is dankbaar dat ons jou vertrou het met hierdie groot besluit en belegging.
Bo alles is jy nie net iemand wat huise bou nie, jy is iemand wat trots is op die eindproduk en jou kliënte se tevredenheid is vir jou baie belangrik – dit gaan vir jou oor meer as net die struktuur wat jy bou – dis vir jou ‘n stukkie “kuns” …
Dankie ook vir al die ander dingetjies waarmee jy gehelp het: soos ons trekvragmotor wat laat was en ons het geen stoele gehad om op te sit nie… jy en Ernest het spesiaal vir ons stoele gebring om op te sit… en die kissie wat jy vir ons laat maak het om Kabous in te begrawe – ons harte was stukkend toe hy in die motor oorlede is… hy was plegtig begrawe vir so ‘n wilde en slobberige “bulldog”…
Baie groete en ons sien uit na lang en mooi vakansies in ons huis!
As ons ooit eendag ‘n verwysing sou soek sou ons dit graag verskaf!
Groete
Annalize & Frans Lategan